http://www.paarlpost.com/cgib/article?newsid=6432Man brand dood weens watertekort
2007-01-18
DEUR ’n tragiese sameloop van omstandighede het ’n gestremde man in ’n opslaanhuis in Chicago, Paarl-Oos, doodgebrand nadat die waterpyp in die buurt gebars het en daar geen water was om die brand mee te bestry nie.
Pietie Grain (62) het verlede Woensdagnag doodgebrand nadat sy informele woning agter ’n woonstelgebou op die hoek van Bosbok- en Blesbokstraat, aan die brand geraak het.
Bure kon hom nie red nie, want die watertoevoer na ’n gedeelte van Chicago is omstreeks 22:00 die aand deur munisipale werkers toegedraai weens ’n gebarste pyp.
Hulle sou eers die volgende dag die probleem herstel omdat dit onmoontlik was om die lekplek in die donker op te spoor tussen die opslaanhuise wat oor die pyp opgerig is.
Bure het omstreeks 02:00 van Grain se vreesbevange gille wakker geskrik, net om te sien dat sy informele woning verswelg was deur vlamme.
’n Buurman, Selwyn van Neel, het gesê dat die polisie reeds op die toneel was toe hulle wakker skrik.
Hulle wou emmers vol water maak om die vlamme te blus, maar
geen van die krane in die omgewing het water gehad nie.
“Die vlamme was te hoog om by Pietie se huis te probeer ingaan om vir hom te red en sonder water kon ons nie die vlamme blus nie.
“Ek het van een huis na die ander gehardloop, maar daar was niks water nie.
“Ek het brandwonde op my skouer opgedoen tydens die voorval.”
Die brand het vinnig versprei na aangrensende wonings, asook die woonstelgebou.
“As ons water gehad het, sou ons kon keer dat die situasie in ’n ramp ontaard het.”
Met die brandweer se aankoms is die watertoevoer weer aangeskakel, maar weens die lae waterdruk het die brandweerwa probleme gehad om hond haar af te maak teen die vlamme.
Petrus van der Heever het ook wakker geskrik weens die chaos in die strate.
“My vrou het nagskof gewerk en ek was alleen tuis met my kinders en kleinkinders. Toe ek wakker word was die hele woonstel deurtrek van die rook.
“My eerste gedagte was om vir die kinders na veiligheid te bring. Teen die tyd dat ek hulle almal uitgekry het, was dit te laat om enigiets in die woonstel te red.
“Ons het alles verloor waarvoor ons deur die jare so hard gewerk het.”
Grain se bedroefde dogter, Cathlene Faro, wat in die woonstelle bly, sê dat sy nooit haar pa se angswekkende gille sal kan vergeet nie.
“Dit gaan my bybly want dit was die aakligste ding wat ek nog ooit gehoor het.
“My pa kon nie loop nie en sou nie op sy eie na veiligheid kon kom nie. Hy het ’n pynlike dood gesterf.”
Die Faro’s se woonstel is ook erg beskadig deur die brand, en hul splinternuwe bakkie wat langs Grain se woning gestaan het, het uitgebrand.
Altesame 29 mense het die meeste van hul besittings verloor.
Die slagoffers van die brand wat in die woonstelgebou gebly het, word tans in tente by Orleanspark gehuisves, maar diegene in die informele wonings is sonder heenkome gelaat.
Munisipale werkers het van die volgende oggend 08:00 tot omstreeks 15:00 gesukkel om die lekplek te vind en die watertoevoer te herstel.
* A disabled man burnt to death in shack fire in Chicago, Paarl East, because no water was available to fight the fire due to a burst pipe.