http://www.news24.com/Regional_Papers/Components/Category_Article_Text_Template/0,,303-307-308_2094603~E,00.html 05/04/2007 01:18 PM - (SA)
Macassar-inwoners vies oor sluiting van brandweerstasie
05-04-2007
"DIT gaan 'n groot ramp wees indien die brandweerstasie van Macassar gesluit word," het Vincent Shabangu, een van die woongebied se gemeenskapsontwikkelingsbeamptes, gesê.
Mnr. Shabangu sê hy is deur van die brand-weerbeamptes wat in Macassar gestasioneer is, meegedeel dat die brandweerstasie gaan sluit. Volgens hom is dit 'n groot skande dat die besluit reeds gemaak is en die mense van Macassar wat direk deur die stap geraak word, nie in die saak geken is nie.
"Niemand kan vir ons 'n verduideliking gee oor wat die ware feite is nie," sê hy.
Hy sê volgens sy inligting is daar 'n bedrag van R2,8-miljoen beskikbaar om die huidige brandweerstasie uit te brei, maar die geld gaan nou glo aangewend word vir traumasentrums in die stad om vir die 2010 Wêreldbeker Sokkertoernooi voorsiening te maak.
Dié brandweerstasie in Macassar word 24 uur deur 15 brandweerbeamptes beman en bied 'n goeie diens aan die gemeenskap.
Hy sê indien die brandweer verskuif sou word, gaan die reaksie tyd vanaf 'n ander plek baie langer wees, wat mense se lewens in gevaar sal stel.
Merceline Liebenberg van die organisasie "Oog op die Kind" sê dit sal 'n skande wees as die brandweerstasie sou sluit.
Volgens haar is daar nog baie Wendyhuise in mense se agterplase wat van hout vervaardig is en wat lewensgevaarlik is as dit aan die brand sou raak. Sy sê ook die belasting styg, maar die dienste word opgeskort.
In reaksie op die bewerings het Charles Cooper, woorvoerder van die Stad Kaapstad gesê dat fondse beskikbaar gestel is vir die opgradering van, en veranderings aan die brandweerstasie om dienslewering te verbeter, in die huidige en komende boekjaar.
Hy sê as gevolg van die aard van die opgradering en veranderings wat daar moet geskied, is hulle genoodsaak om die brandweerstasie vir 'n tydperk te sluit.
Hulle beoog om gedurende Augustus met die bouwerk te begin. Die relevante gemeenskappe en rolspelers sal oor die kwessie ingelig word.
Volgens mnr. Cooper word daar gekyk na 'n alternatiewe/tydelike plek om die brandweer te vestig om sodoende nie dienslewering te kortwiek nie.