http://www.paarlpost.com/cgib/article?newsid=10860Motors slaan aan die brand
2008-04-02
Lise Beyers
’n GESIN van Wellington het die afgelope naweek ’n noue ontkoming gehad, toe hulle wakker geword het in ’n poel van vlamme.
Die Lewis-gesin het Sondagoggend nog geslaap, toe hul- le deur hul bure in Champagnestraat wakker geklop is.
André vertel dat toe hy en sy vrou René hul oë oopmaak, was die hele huis deurtrek van die rook.
“Die rook was dik en ons kon die helder flikker van oranje vlamme verder in die huis sien.
“Ons is dadelik op en het ons twee seuns Rosco en Hugh uit hul beddens geskud.
“Die sitkamer was deur vlamme verswelg en ons moes by die agterdeur uitvlug. Dit was ’n vreesaanjaende ervaring.”
René het gesê dat in die warboel dink ’n mens nog wat om te gryp om saam te neem, maar op die ou end was haar familie en hon- de se veiligheid die belangrikste.
’n Sekuriteitsfirma was eerste op die toneel, en kort op hul hakke die brandweer.
Hulle het daarin geslaag om die vlamme te blus voordat die brand verder deur die huis versprei het.
Die Lewisse se garage en Toyota Corolla is totaal verwoes, asook ’n groot gedeelte van hul sitkamer en dak. Behalwe hiervoor het die hele huis en al hul besittings rook- en waterskade opgedoen.
Die brand het vermoedelik ontstaan deur ’n kortsluiting in hul voertuig se enjin. Die rede hiervoor sal verder deur forensiese deskundiges ondersoek word.
Twee weke gelede het ’n man van Klein Parys ook gekyk hoe sy motor onverklaarbaar uitgebrand het.
Raymond Fortuin van Bonapartelaan het gesê dat hy op ’n Sondagaand rook ge- ruik het kort voordat hy kerk toe sou gaan, maar het eers gedink dat dit ’n grasbrand is.
Maar toe die reuk erger raak, het hy ondersoek ingestel, net om te sien dat sy Opel Kadett aan die brand geslaan het.
“Ek het probeer om die voertuig onder die afdak uit te stoot, sodat die res van die geboue nie vlam vat nie, maar die handrem was opgetrek, en die hitte te erg om binne te gaan. Ek het ook gevrees dat die motor sou ontplof.
“My bure was vinnig byderhand om die brand te help blus.”
Die motor is binne heeltemal uitgebrand en daar was geringe skade aan die afdak.
“Al my seun se kriekettoerusting was bin- ne die motor en is na as verbrand. Ons is egter ’n paar dae later verras deur ’n anonieme skenking van R600 vir nuwe toerusting. Hiervoor is ons baie dankbaar.”
* Two vehicles were recently destroyed when they mysteriously caught alight, presumably due to electrical faults.